Daar is ‘n hele paar redes waarom die Ou Testament vir ons belangrik is:
Die fondasie vir die leringe en gebeure in die Nuwe Testament.
In die eerste plek is die Ou Testament die fondasie vir die leringe en gebeure wat ons in die Nuwe Testament aantref. Die Bybel is ‘n progressiewe openbaring. Indien jy die eerste helfte van enige goeie boek oorslaan en dit dan probeer klaar lees, sal jy dit baie moeilik vind om die verhaal werklik te verstaan. Die karakters, die verskillende hoogtepunte en selfs die einde mag moontlik vir jou ‘n probleem skep. Op dieselfde wyse kan ons slegs die Nuwe Testament werklik verstaan as ons die fondasie daarvan verstaan soos aangetref in die gebeure, karakters, wette, verbonde en beloftes van die Ou Testament.
Dit stimuleer begrip.
Indien ons slegs die Nuwe Testament gehad het sou heelwat gebeure vir ons geen sin gemaak het nie. Neem byvoorbeeld die volgende: Sonder die Ou Testament sou ons by die Evangelies begin het en sou ons nie geweet het waarom die Jode op soek was na ‘n Messias nie. Ons sou nie weet waarom die Messias moes kom nie (Jesaja 53), en ons sou nie vir Jesus van Nasaret as die Messias kon herken nie. Die rede daarvoor is dood eenvoudig dat soveel profesieë in die Ou Testament hierdie waarheid aangaande Jesus verkondig. Sien byvoorbeeld die geboorteplek van Jesus (Miga 5:2), die wyse waarop Hy moes sterf (Psalm 22, veral verse 1, 7-8, 14-18), Sy opstanding (Psalm 16:10) en heelwat ander besonderhede aangaande Sy bediening op aarde (Jesaja 9:2; 52:3).
Leer ons aangaande Joodse gewoontes en gebruike.
‘n Studie van die Ou Testament is ook belangrik sodat ons die Joodse gewoontes en gebruike wat ons in die Nuwe Testament aantref, kan verstaan. Ons sou nie kon verstaan waarom die Fariseers God se wette verdraai het as dit nie was vir die kennis aangaande hulle eie Joodse tradisies wat hulle bygevoeg het tot die wette nie. Waarom was Jesus so kwaad toe Hy die tempeltafels omgegooi het? Waar het Jesus aan al die waarhede gekom wat Hy soveel kere as antwoorde aan die mense gegee het? Natuurlik kan ons hierdie vrae net beatnwoord in die lig van die Ou Testament.
Dit is Gods Woord.
Wat van die Bybel as Gods Woord? Die Ou Testament verskaf heelwat profesieë wat slegs bewaarheid kon word indien die Bybel God se Woord en openbaringe is. Neem as voorbeeld die boek van Daniël hoofstuk 7. Daniël se profesieë gee volledige besonderhede oor die opkoms en val van die nasies. Hierdie profesieë is so akkuraat, in der waarheid verkies sommige skeptici om dit te verklaar deur verkeerdelik te verkondig dat dit beslis eers geskryf is nadat al hierdie dinge in werklikheid gebeur het.
Dit hou soveel lewenslesse in.
‘n Ander rede waarom dit vir ons belangrik is om die Ou Testament te ken en te bestudeer, is die talle lesse wat dit vir ons inhou. Deur die lewens van die verskillende karakters in die Ou Testament te bestudeer, vind ons wyses waarop ons eie lewens daarby kan aanpas. Ons word uitgedaag om God te vertrou ongeag moeilike tye (Daniël 3), ons leer hoe om vas te staan in ons oortuigings (Daniël 1) en geduldig te wag op die beloning vir ons getrouheid (Daniël 6). Ons leer ook hoe belangrik dit is om ons sonde opreg te bely sonder versuim en dat ons verantwoordelikheid moet aanvaar en nie skuld moet verskuif na ander nie. (1 Sameul 15). Ons sonde het gevolge, nie net vir onsself nie maar ook vir ons geliefdes (Genesis 3) en so het goeie gedrag ook belonging wat daarmee gepaard gaan vir ons en ons geliefdes. (Eksodus 20:5-6).
Dit verklaar die profesieë wat in vervulling gaan.
Sonder die Ou Testament sou dit vir ons onmoontlik wees om die konsep van “’n profesie” te verstaan. Die Ou Testament bevat soveel beloftes wat vervul moes word vir die Joodse volk. Die groot verdrukking, die 1000-jarige vredesryk, sy beloftes aan die Jode, en die wyse waarop soveel gebeure sou lei tot die eindtyd word reeds begin in Ou Testamentiese tye.
Dit help en leer ons van God se liefde en karakter.
Die belangrikste is dat die Ou Testament ons help en leer hoe ons God kan dien en liefhê. Dit leer ons soveel oor God se karkater en die wyse waarop Hy ons tot die uiterste liefhet. Deur Ou Testamentiese profesieë wat vervul word in Nuwe Testamentiese tye toon dit aan ons die uniekheid van die geinspireerde Woord van God.