God, die kerk, peste & plae

God die kerk peste & plae

Plae, siektes, peste, hongersnood, oorloë en natuurlike rampe. Hierdie harde werklikhede is deel van die lewe in ‘n gevalle wêreld en ons lees op heelwat plekke daarvan in die Bybel. ‘n Wyd verspreide pandemie wat ons tans beleef is ook geen onbekende in die geskiedenis van die Christendom en in die lewe van gelowiges nie.

Die uitbreek van die Groot Plaag in 1347, die London plaag in 1665, die Spaanse griep in 1918, die Ebola krisis in Wes Afrika in 2012 is almal voorbeelde hiervan. Christene regdeur die geskiedenis moes hierdie krisisse deurleef. Voeg daarby twee wereldoorloë, die groot depressie van 1929, die Siriese vlugtelingskrisis in 2011 en ons kom vinnig tot die besef dat ons met vandag se Coronavirus geen nuwe uitdaging hoef te vrees nie.

In al bogenoemde gevalle is ekonomieë en handel vernietig, besighede is gesluit, vervoernetwerke het tot stilstand gekom en kos was skaars, terwyl kerkgeboue leeg en sonder lewe was.

Ek noem al hierdie realiteite nie om ons huidige situasie te onderspeel nie, maar om dit bloot in historiese perspektief te plaas. Tye soos hierdie is nie onbekend vir die kerk en gelowiges nie. Inteendeel, die tye waarin Christene beskut was teen moeilikheid soos hierdie is eerder die uitsondering as die reël. Selfs nou terwyl hierdie pandemie voortwoed, word Christene wêreldwyd steeds vervolg vir hulle geloof. Christus het nooit aan ons beloof dat vryheid van moeilikheid vir ons bestem is nie. Hy het eerder gewaarsku dat die teendeel vir ons beskore is, maar terselfdertyd vrede en hoop in Homself as Messias en Redder belowe. (Johannes 16:33).

Tye soos hierdie herinner ons aan die feit dat ons sterflike skepsels is wat in ‘n sondige wêreld leef. ‘n Wêreld wat vervloek is deur die sonde van Adam en Eva en waarin die Koninkryk van God in al sy volheid vir ons wag in die toekoms. Toe die stad Rome afgebrand is deur ‘n inval uit die vreemde in 410 n.C, het die kerkvader Augustinus se boodskap vanuit Noord Afrika gelowiges gewys op die ewige beloftes van Gods Koninkryk wat ‘n sekerheid is in hierdie tyd waar aardse hoop vermorsel en verbrand word.

Die demonstrasies van geloof en standvastigheid midde in krisistye deur gelowiges in die verlede en hede, moet vir ons inspireer om te volhard.

Selfs in antieke Romeinse tye met die voorkoms van plae en peste, is dit dikwels die Christene wat demonstreer hoe omgee en sorg van siekes en aan diegene wat sterwend is moet lyk. Gedurende daardie tye is dit selfs heidene en Romeinse verdrukkers wat kennis neem daarvan.

Gedurende die Protestantse Reformasie, met die uitbreek van die plaag van Wittenberg, was dit Martin Luther wat reageer het met die opdrag dat gebede vir Gods genade gebid moet word tesame met verantwoordelike praktyke van sanitasie, medikasie, self-kwarantyn en sosiale afstande as liefdesdaad aan almal om die verspreiding te help stop. Tog het Luther en sy vrou Katie nie geaarsel om hul huis oop te stel aan diegene in nood. Luther se groot gesang “A Mighty Fortress” wat baseer is op Psalm 46, verkondig dan ook triomferend dat God se waarheid steeds vasstaan en dat Sy Koninkryk vir ewig is.

Die Spaanse griep van 1918 het miljoene mense wêreldwyd gedood. Kerkgeboue in baie gebiede is gesluit terwyl gelowiges voortgegaan het om te aanbid in huise. Sommige kerkdeure is wyd oopgegooi en het gedien as gesondheidsklinieke omrede hospitale uit nate gebars het met siekes. Baie gelowiges het in hierdie tyd hul eie lewens opgeoffer sodat siekes versorg kon word.

Met die uitbreek van die Ebola krisis in Liberia in 2014 is die sendingstasie ELWA die “ground zero” van mediese sorg genoem. Baie Liberiese burgers en Westerse sendelinge soos Nancy Writebol het dapper ander gedien met groot risiko en koste vir hulself.

Tye soos hierdie is geleenthede vir die liggaam van Jesus Christus op aarde om te wys dat ons waarlik glo deur ons onwrikbare geloof en hoop in God aan almal te wys en voort te gaan om goed te doen in liefde teenoor ander wat dit so nodig het. In donker tye veral, wees op die uitkyk vir buitegewone strale van lig geloof, hoop en liefde.

Almal van ons sal dalk nie kan help in die voorste linies deur siekes te versorg nie, maar daar is soveel ander maniere waarop ons liefde kan bewys aan ander in tyd van nood. As Christene kan ons verseker wees dat ons reaksie op hierdie pandemie ons geloof en vertroue op God aan ‘n gebroke wêreld sal weerspieël. Die kerk en elke gelowige, ook ek en jy, sal moontlik anderkant uitkom, tog nie sonder lidtekens nie, maar hopelik met ‘n erflating as getuie vir en van Jesus Christus.

In ‘n onseker toekoms, kom ons sak neer op ons knieë en bid soos God ons geleer het. Kom ons vra God vir “daaglikse brood” – brood van versoening met almal, brood vir honger siele en liggame, en brood vir genesing van pyn, siekte en boosheid. Laat ons met helder en dapper stemme in die lig van ‘n donker tyd saam met Habakuk uitroep: “Die Here, die Oppermagtige is my krag! Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” (Habakuk 3:19).

Hierdie artikel is geskryf en versorg deur Dr. Leon Pienaar, dosent aan LEDISA Academy (Pty) Ltd – Bet-El Bybel Divisie. U is welkom om hom te kontak met u navrae of opmerkings.

Sertifikaat in Bybelinterpretasie

Registreer vir die Sertifikaat in Bybelinterpretasie en verwerf kennis aangaande ‘n beter lees en verstaan van die Bybel as God se Woord. Meer inligting aangaande hierdie sertifikaatprogram is hier verkrygbaar.