As ons praat oor die onderwerp “Beheer jou gedagtes” is daar soveel “mites” of stereotipes (valshede) wat geglo word deur mense. Ek wil graag hierdie “mites” uit die weg ruim want so baie mense glo dit as die waarheid. Self ek het vir jare hierdie dinge geglo as waarheid. En ek is seker dat baie mense steeds elke dag van hierdie mites glo en dink dit is die waarheid. Die probleem as ons dit glo is dat dit ons vermoë vertraag om die manier waarop ek dink te verander. Moenie hierdie dinge glo as jy beheer oor jou gedagtes probeer kry nie!
Die eerste fout wat ek gemaak het, was om te glo dat dit onmoontlik is om die manier waarop ek dink te verander. Ons dink mos ons is gebore soos ons is. As kind het ek in ‘n minder maklike omgewing opgegroei en my lewe en gedagtes het gedurig geneig na die negatiewe. Ek het gesukkel om myself sovêr te kry om anders te begin dink en was van mening dat dit deel was van my genetiese oorsprong. Totdat die Here een dag hierdie leuen vir my kom verander het, het ek dit werklik geglo. ‘n Kollega vertel dat sy eendag in Starbucks ‘n aanhaling teen ‘n muur gelees het wat die volgende gesê het: “‘n Gedagte is net ‘n gedagte en dit kan verander word.” Die spesifieke dag toe sy dit lees was haar eie gedagtewêreld op daardie oomblik ‘n probleem, en sy het magteloos gevoel. Sy wou dit nie werklik glo nie en haar negatiewe denke het nog ‘n ruk voortgeduur. Ek was ook al by hierdie punt in die lewe, en moontlik was jy ook al daar. Moenie dieselfde fout maak as ek nie. As jy somtyds of selfs dikwels magteloos voel oor wat in jou gedagtewêreld aan die gang is, weet dat ‘n gedagte net ‘n gedagte is en dat dit verander kan word.
Die tweede fout wat ek gemaak het, was om te glo dat dit baie moeilik is om jou gedagtes te verander. Jy weet mos hoe leuens werk. As een leuen ontmasker word, dan rasionaliseer ons gewoonlik ‘n rede wat in ‘n ander leuen verander word. Noudat ek geglo het dat gedagtes verander kan word, het ek vir myself gesê : “Goed, maar dis nie so maklik nie”? Die teendeel is die waarheid. Die geheim is opgesluit in die oorsprong van die “probeer”. Wanneer ek so hard sou werk (in my eie krag) om my gedagtes te verander, sou ek ‘n sprankie hoop sien, maar dit was altyd van korte duur. As gevolg hiervan sou ek opgee. Ek bedoel, ernstig, hoe lank moet ek teen my eie gedagtes veg? Ek kan jou verseker dat dit baie moeilik is om jou gedagtes te verander as jy dit uit eie krag probeer doen. Maar ek kan jou ook verseker, dis nie so moeilik nie.
Dit bring my by die derde fout. Ek het hierdie mal idee gehad dat sodra ek uitgevind en uitgewerk het hoe om my gedagtes te verander en te beheer, dit nooit weer ‘n probleem sou wees nie. Hoe verkeerd was ek nie! Die slagveld van ons gedagtes is ‘n gebied waar ons altyd sal moet vasstaan. Sodra jy die aan die einde van hierdie artikel die paar Bybelverse onthou oor die beheer van jou gedagtes – sal jy ‘n dieper begrip hê van die gedagtelewe waarna ons mik (en ons sal tekort skiet). Kan ek dit weer sê: “Ons sal tekort skiet en nie altyd suksesvol wees nie.”
Vinnige opsomming van die verkeerde mites of stereotipies wat ons geneig is om te glo as die waarheid – jy kan jou gedagtes beheer (moeilik om te glo, ek weet), dit is nie te moeilik nie (alhoewel dit moeite verg) en jy sal tekort skiet; jy sal nie volledig aan die ander kant van hierdie stryd kom terwyl jy hier op aarde is nie.
Moenie hierdie leuens koop soos wat ek vir so lank gedoen het nie. Dit sal jou ‘n slagoffer maak van ‘n gedagtelewe wat buite beheer is.
Genoeg hiervan – kom ons kyk na wat die Woord sê oor die beheer van jou gedagtes.
” … vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees.” (Filippense 4: 8-9)
Hierdie vers is die teiken of doelwit waarna ons in ons gedagtelewe mik. Ek moet bieg, my eie gedagtelewe mis hierdie teiken alreeds by die heel eerste vereiste wat gestel word … alles wat waar is. Dis so maklik om te dink aan dinge wat eenvoudig nie waar is nie.
Wanneer gedagtes in ons kop rondrol om nes te skop dan maak ons dikwels die fout om dit as feite te sien en selfs dikwels te glo. Daardie gedagtes hang in ons koppe rond en word dikwels nooit bevraagteken nie, dis vir ons half weggesteek en onbetwis. – ja, dis hoe Satan subtiel te werk gaan.
Ons gedagtes word sterk beïnvloed deur ons lewenservaringe van kleins af tot nou toe. Dit beteken dat hulle gevorm word deur ons persepsie van dinge wat ons sien, hoor of ervaar. Let wel ek sê – ons persepsie, ons verstaan, ons realiteit. As gevolg hiervan kan gedagtes onakkuraat wees. Dis daardie onakkurate gedagtes wat ons wil gevange neem en beheer.
Jy wonder dalk hoekom dit so belangrik is om daardie gedagtes gevange te neem …
Hoekom moet ons ons gedagtes beheer?
“Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Spreuke 4: 23
Ons gedagtes het ‘n kragtige invloed op ons emosies en optrede. Dis soos ‘n kringloop of sirkel wat soos volg werk …
Ons het ‘n gedagte (wat ons nou oordink en sien as ‘n feit) wat die beginpunt van hierdie kringloop is. Hierdie gedagte wek emosies en gevoelens in ons op, en die voltooiing van die kringloop is ons reaksie op daardie gevoelens of emosies. Gewoonlik reageer ons deur iets te sê of dikwels eerder iets te doen.
As die oorspronklike gedagte waar, eerbaar, lieflik of edel is, sal dit goeie, positiewe en gelukkige emosies en optrede oplewer. Wanneer die gedagte angstig, depressief of negatief is, voel ons nie goed nie en minder goeie optrede volg.
Nou die miljoen rand vraag – hoe beheer ons ons gedagtes? Wat is hierdie magiese lewensveranderende formule? Die enigste boek wat werklik jou lewe kan verander, is die Woord van God.
Hoe beheer ons eintlik ons gedagtes?
Die grootste struikelblok om my gedagtes te beheer is om dit in eie krag te probeer doen. Ek probeer met my eie intellek en krag en allerhande formules dit self regkry. Ek probeer dit intellektueel uitwerk en my eie plannetjies maak. Gevolglik raak ek moeg daarvoor, ek raak moedeloos en gee selfs op, met die gevolg dat die gedagte maar net voortgaan, en die kringloop beweeg aan en aan.
Maar hoor wat sê God vir jou vandag: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.” (2 Korintiers 12: 9-10)
Om jou swakhede na God te bring, is baie effektief, eenvoudig omdat Hy oorvloedig genade gee. Ons is nie volmaak nie en ons gedagtelewe is ook nie volmaak nie – maar die genade van Christus is voldoende. Hou op om so hard op jouself te wees en jouself te martel, plaas jou vertroue in Hom en gee dit eenvoudig vir Hom.
“Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.”” 1 Petrus 5: 7
God het jou nooit gemaak om jou las alleen te dra nie. Sy genade is altyd saam met ons om die las te help dra. By hierdie genade, gee Hy ons ook die toerusting om oorlog te voer teen gedagtes wat buite beheer is.
“Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort. (Efesiers 6:17-18)
Hierdie Bybelverse oor die beheer van jou gedagtes is ‘n raamwerk oor hoe die wapens gebruik kan word om te veg – swaard van die Gees (Bybel) en gebed in die Gees. Beide hierdie wapens is kragtig as gevolg van die Heilige Gees. Hy is ons helper – om die Bybel te lees en te bid is kragtig omdat die Heilige Gees in my en jou, in alle gelowiges woon.
Die Bybel is kragtig om jou gedagtes te beheer!
Die Woord van God is waarheid. Onthou jy toe ek hierbo genoem het dat ek sommer al by die eerste vereiste (dink dit wat waar is) misluk. Die teenoorgestelde van dit wat nie waarheid is nie, met ander woorde die teenoorgestelde van die leuen, is die Bybel. Wanneer ek iets dink wat nie waar is nie, neem die Bybel as die riglyn van die waarheid en dit wat ek nie wil dink nie, verdwyn soos mis voor die son.
“Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid.” (Johannes 17: 17)
Wat ons dink is nie altyd akkuraat of waar nie – dit word egter waarheid wanneer ons dit in lyn bring met God se Woord. Hoe beter jy die Bybel ken, hoe makliker word hierdie proses.
“Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.” (Romeine 12: 2)
Het jy geweet dat as jy jouself vra wat die beste tyd in jou lewe is om ‘n vrugteboom te plant, die antwoord vandag 20 jaar gelede is. Dan het dit vandag vir jou vrugte gegee, Maar die tweede beste tyd is nou. Baie mense word groot in ‘n huis waar daar nie dikwels in die Bybel gelees word nie. Dis vandag nog meer waar as jare gelede. Ek self het in my laat twintigerjare eers meer erns begin maak met die Bybel as prioriteit. God het nooit gedink dat my vrugteboom 20 jaar te laat geplant is nie – Hy gee water en Sy boom dra vrugte op Sy tyd. Dis nooit te laat nie – selfs indien jy nog nooit die Bybel ‘n prioriteit gemaak het nie. Die tweede beste tyd om jou boom te plant is vandag.
Nou het ons die formule. Hierdie Bybelverse oor die beheer van jou gedagtes is hoe jy gedagtes gevange neem.
“Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2 Korintiers 10: 5)

Kom ons maak 'n finale opsomming
“Google” is ‘n wonderlike instrument. Ek het al dikwels met mense gesels wat sê dat hulle ‘n oplossing gesoek het en dinge soos “Wenke oor die beheer van jou gedagtes” gesoek het in die hoop om ‘n kitsoplossing te kry. Daar is geen kitsoplossings wanneer dit kom by ‘n wonderlike gedagtelewe nie. Dit verg moeite en oefening. Maar die Woord van God sal jou gedagtelewe verander as jy glo dat dit waar is.
Wanneer jy die reis begin om jou denke te verander – doen dit in God se krag en laat Sy genade oor jou spoel wanneer jy tekort skiet. Gebruik die wapens wat aan jou gegee is – die Woord en gebed. Verwag dat nuwe gedagtes in die plek van jou ou gedagtes sal opduik. So neem jy die ou gedagtes gevange. Jy land aan die kant van genade, aan die kant van die waarheid, aan die kant van beheer. Wees bemoedig, want nou het jy ‘n plan.