Elke mens op aarde weet dat mense mekaar seermaak en dat elkeen in die lewe soms rondloop met sy of haar eie pakkie bitterheid. Maar minder mense weet dat dit daardie einste pakkie bitterheid is wat ons lewe verwoes en ons verhoed om oorwinning te ervaar. Bitterheid wat rondgedra word het die geneigdheid om ons terug te trek in ‘n draaikolk van seer en onreg waaruit ons nie kan ontsnap nie.
Bitterheid begin gewoonlik as ‘n klein plantjie wat sy kop uitsteek, amper soos ‘n onwelkome onkruid. Aanvanklik kruip dit weg in ons harte en dan begin dit kop uitsteek en al groter groei soos ons dit in ons gedagtes herhaal en weer herhaal. Ons gedurige bitter gedagtes word soos dieper spore wat in ‘n modderland getrap word. Dan word ons seer en onreg aan elkeen wat wil hoor vertel tot in die fynste besonderhede. Op hierdie manier probeer ons beter voel en simpatie kry van ander, terwyl ons eintlik net onsself dieper in die draaikolk van bitterheid laat inttrek.
Bitterheid het die geneigdheid om sy eie gedaante te wys al probeer ons dit ook onderdruk en wegsteek. Soos ‘n groot opgeblaaste strandbal wat ons onder die water probeer druk, bly dit neig na die oppervlak en kan dood eenvoudig nie weggesteek word nie. Dit maak nie saak hoe sterk en dapper ons is as ons hierdie strandbal onder die water probeer druk en dit daar probeer hou nie, dit weier om onder die water te bly. Dit begin rondspring as die standbal homself na die oppervlak dwing en dis onvermydelik dat ander wat langs ons staan, natgespat word met ons bitterstrale.
Selfs Paulus het geweet dat hierdie standbal nie sommer maklik onder die water weggesteek kan word nie. Hy het geweet jou pogings om die bal onder die water te druk gaan veroorsaak dat die bitterstrale op jou vriend langs jou spat. In Romeine 12:18 sê hy: “Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.” Probeer dus in vrede te leef met almal, is die goeie raad wat hy gee.
So, hoe kan ons dit doen? Hoe kan ons voorkom dat bitterheid in ons harte nesmaak? Hoe kan ons ons gevoelens hanteer voordat dit verder ontwikkel en in ‘n maalkolk van bitterheid beland?
1. Die sleutel.
God het geweet dat dit nie altyd moontlik sal wees om in vrede met sommige mense te leef nie. Daarom sê Romeine 12:18: “As dit moontlik is …” Maar tog is dit ‘n vereiste wat God gee dat ons ander moet vergewe. (Efesiërs 4:32). Dit is die begin van die wonderlike ontstnapping uit bitterheid. Vergifnis sal selfs verhoed dat jy ooit in die maalkolk van bitterheid beland.
Maar dis hier waar die “tyre die teer slaan”, soos ons tereg sê. Ons gebrek aan vergifnis is die rede waarom ons kies om aan bitterheid vas te hou en dit te laat ryp word tot ‘n volgroeide wrok. Hoewel dit lyk of ons nie kan vergewe nie, moet ons tog soms erken dis nie “ek kan nie”, maar veel eerder ‘n onwilligheid wat sê: “ek wil nie”.
In die gelykenis van die man wat ‘n groot skuld vergewe is (Matteus 18:24-35), sien ons dat hierdie man onmiddellik betaling eis van iemand wat hom ‘n fraksie skuld van wat hy self skuld. Alhoewel barmhartigheid en genade aan hom bewys is, was hy nie bereid om dieselfde in ‘n veel geringer mate te betoon nie.
Soos ‘n sleutel die deur oopsluit wat ons binnenooi, so is vergifnis die sleutel wat die lewe uit die maalkolk vir jou oopsluit. Maar jy moet die sleutel in die sleutelgat plaas en die deurknop draai.
2. Vergifnis omdat ....
Gewoonlik kan jy onderskei of ‘n persoon in die draaikolk van bitterheid vasgevang wanneer ‘n eerste reaksie is: “Jy verstaan nie wat hulle aan my gedoen het nie.”
Ons mag dalk nie verstaan nie, maar Jesus Christus verstaan wel. Sels al het hy ‘n perfekte lewe gelei, is hy geslaan, bespot, gespoeg en aan ‘n houtkruis opgehang om ‘n wrede dood te sterf. Johannes 3:16 sê egter dat Hy die wêreld lief genoeg gehad het om hierdeur te gaan. Soms dink ons verkeerdelik dat hy net vir ons gesterf het, maar toe hy gesterf het, het hy vir die wêreld gesterf – insluitend die persoon wie jou seergemaak het. Ons word aangesê om ander te vergewe net soos Christus ons vergewe het. Verdien hulle dit? Nee. Verdien ons dit? Weereens, nee. Maar tog het Hy aan daardie vervloekte houtkruis gehang vanweë sy liefde vir elkeen van ons.
Wanneer ons nie “wil” vergewe nie, is ons oë nie op Hom nie, hulle is vasgevang op onsself. ‘n Paar jaar gelede toe seerkry my getref het en ek nie verder kon weghardloop daarvan nie, het ek een middag op die hoofweg na Pretoria van die pad afgetrek en met trane in my oë besef ek kan nie verder nie. Daar en dan het ek vir God gesê, “Iemand moet hiervoor betaal.” En op Sy vriendelike, liefdevolle, teer manier het Hy vir my gesê: “Ek het reeds betaal.”
3. Die uiteindelike oorwinning!
God weet reeds wat in jou hart aangaan. Hy ken jou gedagtes en hy weet hoe die ander persoon jou seergemaak het. Hy was daar.
Onthou, uit eie krag, het ons nie die vermoë in onsself om ander te vergewe nie. Maar God kan ons bemagtig om diegene wat ons seergemaak het, te vergewe (Filippense 4:13). Toe God die middag op die hoofweg vir my sê” Ek het reeds betaal”, was my eerste woorde aan Hom: “Neem u dan oor Here, want ek kan nie meer en weet nie hoe”. En weereens was Hy daar met Sy liefdevolle begrip.
Met ‘n leë stuk papier voor jou, vra God om enigiemand wat jy moet vergewe se name nou neer te skryf. As hy jou ‘n naam of twee of tien gee, begin bid vir diegene op jou lys. Bid elke dag totdat jy voel hoe God daardie wrewel waaraan jy vasgehou het, laat weggsmelt met deernis en liefde.
Het jy geweet dat dit onmoontlik is om bitter te wees teenoor diegene vir wie jy bid? Dis onmoontlik om kwaad te wees vir iemand wat jy vergewe het. Ja, dit is nie maklik om vir hulle te begin bid nie; dit is een van die moeilikste dinge wat ek moes doen. Maar wanneer ek daardie persoon ‘n voorwerp van gebed maak, maak ek die deur van my hart ‘n bietjie wyer oop sodat God kan inkom en Sy liefdevolle asem in my hart kan inblaas. Dis dan wanneer die ysige yswrok in my hart begin smelt.