Die vervolging van Christene is vanaf Bybelse tye ‘n gegewe. Regoor die wêreld ervaar meer as 340 miljoen Christene tans vervolging elke dag; die enigste rede daarvoor is dat hulle volgelinge van Christus is – een uit elke agt gelowiges.
Inhoudsopgawe
Inleiding
Hierdie situasie is deur die COVID-19 pandemie vererger. “The COVID-19 pandemic has turned a bad situation into an unbearable one,” skryf David Curry, die president en hoof uitvoerende beampte van Open Doors USA. Volgens hom het die pandemie die geleentheid geskep om geloofsgebaseerde diskrimanasie uit te brei en geweld kom nou meer voor in gebiede waar godsdienstige vervolging alreeds kommerwekkende vlakke bereik het.
Volgens die 2021 World Watch List is vervolging buitegewoon hoog op die kontinent van Afrika, waar een uit elke ses Christene geloofsgebaseerde diskriminasie en geweld ervaar. Net in Nigerie alleen word tien Christene gemiddeld daagliks vermoor as gevolg van geloofsoortuigings.
Die tien lande wat die ergste gebuk gaan onder vervolging word hieronder gelys. Dit waarvoor ons kan bid word aangedui onder elke land.
Top 5 lande vir die vervolging van Christene
Noord Korea
Die jaar 2021 is die twintigste jaar in ʼn ry wat Noord-Korea gelys word as die land waar Christene die ergste vervolging verduur. Noord-Koreaanse Christene ervaar steeds die ergste vervolging in elke aspek van hulle openbare en private lewens.
Enige Christen, op enige plek in Noord-Korea, is uiters kwesbaar vir vervolging. Die Noord-Koreaanse owerhede gaan selfs verder as die landsgrense: Geheime agente in China het die taak om Noord-Koreaanse Christene wat vanuit die land gevlug het, te vind en te ontvoer.
Om in Noord-Korea as ʼn Christen geïdentifiseer te word, is ʼn doodsvonnis. As jy nie dadelik doodgemaak word nie, sal jy as ʼn politieke misdadiger na ʼn strafkamp geneem word. Hierdie onmenslike gevangenisse het gruwelike toestande, min gelowiges kom lewendig daaruit en elkeen in hul familie sal dieselfde straf kry. Daar word berig dat die land se leier, Kim-Jong-un, die stelsel van strafkampe uitgebrei het, waarin ʼn beraamde 20 000 tot 70 000 Christene tans gevange gehou word.
Area: Asië
Bevolking: 25 841 000
Beraamde Hoeveelheid Christene: 400 000
Meederheidsgeloof: Amptelike staatsideologie van “Juche” of “nasionale selfstandigheid”
Gebedsversoeke:
- Bid vir Noord-Korea se geheime gelowiges, dat God sal voortgaan om hulle te versterk, in hulle behoeftes sal voorsien en hulle veilig sal hou.
- Bid vir gelowiges wat in die gevangenis is. Bid vir troos en krag vir hulle, en dat hulle selfs in die tronk God se teenwoordigheid en liefde sal ken.
- Ten spyte van die risiko’s, hoor ons getuienisse van gelowiges wat die Evangelie met ander deel – selfs in Noord-Koreaanse strafkampe. Bid dat Noord-Koreaanse gelowiges soos ligte in die donkerste plekke op aarde sal skyn.
Afghanistan
Afganistan is steeds die tweede hoogste land op die Wêreldwaarnemingslys en vervolging is net effens minder as in Noord-Korea. Alle Christene in Afganistan is uiters kwesbaar vir vervolging.
ISIS en die Taliban het steeds ʼn sterk, gewelddadige teenwoordigheid in Afganistan, met die Taliban wat groot gebiede beheer. Onderdrukking is veral erg in hierdie gebiede, en daar is geen veilige manier om aan enige vorm van Christelike geloof in die land uiting te gee nie.
Dit is onmoontlik om openlik as ʼn Christen in Afganistan te leef. Om Islam te verlaat, word as skandelik gesien en Christen-bekeerlinge staar ernstige gevolge in die gesig indien hulle nuwe geloof ontdek word. Hulle sal óf vanuit die land moet vlug óf met hulle lewens boet.
Area: Asië
Bevolking: 38 055 000
Beraamde Hoeveelheid Christene: ‘n Paar Honderd
Meederheidsgeloof: Islam
Gebedsversoeke
- Bid vir beskerming vir die klein persentasie Afgaanse gelowiges. Bid dat God “siende oë blind sal maak” en dat enigiemand wat moontlik op soek is na geheime Afgaanse Christene hulle nie sal ontdek nie.
- Bid dat Afgaanse gelowiges, ten spyte van die isolasie, versterk en bemoedig sal word in hulle geloof. Bid dat hulle ʼn veilige manier sal vind om toegang tot die Woord van God te kry en met ander gelowiges te kommunikeer.
- Bid dat God in die harte van Islamitiese ekstremiste, soos lede van die Taliban en ISIS, sal werk sodat hulle die liefde van Jesus sal leer ken en dat Hy hulle lewens sal omswaai.
Somalië
Somalië bly nommer drie op die Wêreldwaarnemingslys as een van die lande waar Christene uiterste vervolging ervaar. Dit lyk egter of die situasie in die afgelope jare selfs meer versleg het. Islamitiese militante het hulle soektog na Christene verskerp, veral na dié in leierskapsposisies.
Daar is geen “kerklewe” in Somalië nie en dis onmoontlik om jou Christelike geloof openlik te erken. Islam word as ʼn noodsaaklike deel van die Somaliese identiteit beskou en as enige Somaliër daarvan verdink word dat hulle na Christenskap bekeer het, is hulle in groot gevaar. Lede van hulle familie, stam of gemeenskap sal hulle teister, intimideer of selfs vermoor. Vroue kan verkragting of gedwonge huwelike in die gesig staar.
Christene is ook in gevaar van al-Shabab, ʼn gewelddadige groep wat Sharia (Islamitiese wetgewing) probeer bevorder om daardeur alle aspekte van die samelewing te reguleer. Christene vanuit ʼn Moslemagtergrond word as ʼn teiken van “hoë waarde” deur al-Shabab gesien, wat dikwels gelowiges op die plek teregestel indien hulle geïdentifiseer word.
Area: Afrika
Bevolking: 16 105 000
Beraamde Hoeveelheid Christene: ‘n Paar Honderd
Meederheidsgeloof: Islam
Gebedsversoeke
- Bid vir families van diegene wat weens hulle geloof vermoor is, dat hulle vertroosting van hul Hemelse Vader sal ontvang en van hul bitterheid genees sal word.
- Bid vir ʼn sterk Kerk om onder die Somali-mense te groei – wat op Jesus sal vertrou en sal honger en dors na God se regverdigheid.
- Bid vir dié wat verantwoordelik is vir die moorde op Christene dat hulle met vrees vir die Here gevul sal word.
Libië
Geweld styg steeds in Libië, en daar is meer geverifieerde gevalle van aanvalle en moorde. Vervolging het in alle sfere van die samelewing vererger.
Daar is geen vryheid van spraak en vryheid van geloof in Libië nie, en bitter min kans vir ʼn openbare kerklewe. Alhoewel daar ongeveer 34 500 Christene in die land is, is slegs ʼn klein hoeveelheid (ongeveel 150) Libiërs – die meerderheid is buitelanders en trekarbeiders.
Libiese Christene vanuit ʼn Moslemagtergrond ervaar gewelddadige en intense druk van hulle families en die wyer gemeenskap om hulle geloof te herroep. Hulle – asook buitelandse Christene – is kwesbaar vir ontvoerings en moord deur Islamitiese militante groepe en georganiseerde misdaadgroepe.
Dit is onwettig om jou geloof openlik in Libië te deel en diegene wat probeer om hul Christelike geloof met ander te deel, is in gevaar van gewelddadige teenstand of inhegtenisneming. Sonder ʼn sentrale regering is die land effektief in ʼn toestand van wettelose anargie. Daar is min kans vir wettige geregtigheid wanneer Christene aangeval of vermoor word.
Gebedsversoeke
Area: Noord Afrika
Bevolking: 6 662 000
Beraamde Hoeveelheid Christene: 34 500 (0,5%)
Meederheidsgeloof: Islam
Gebedsversoeke
- Bid vir Libiese gelowiges wat onder erge druk is, veral dié wat weens hulle geloof in hegtenis geneem is. Bid vir hulle beskerming en vrylating.
- Bid vir dié wat aan bewind in Libië is. Bid vir vrede en stabiliteit, en vir ʼn einde aan die voortdurende burgeroorlog. Jare van anargie en ʼn magstryd het baie lewens gekos en hoop vir die toekoms verwoes, en Christene en ander minderhede baie kwesbaar gelaat.
- Bid vir nuwe bekeerlinge wat gedoop is. Bid dat hulle ʼn groep gelowiges sal vind om by aan te sluit – en verheug sal wees omdat hulle Jesus gevind het.
Ontmoet vir Maizah*
“Die kamer was donker, maar ewe skielik was daar ʼn Man wat soos lig geskyn het. Hy het nie onwerklik gelyk nie, maar ek het gevoel ek kon aan Hom raak. Hy het heeltyd langs my gestaan. Net Sy teenwoordigheid het geluk in my hart gebring. Hy was lank en Sy hare was langerig. ‘Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe,’ het Hy vir my gesê. Toe is Hy weg.”
Maizah* het Jesus in ʼn droom ontmoet en ʼn Christen geword, maar na verskeie aanvalle het sy geen ander uitweg gesien nie as om uit Libië te vlug. Nadat sy deur ʼn groep mans aangerand is en die opsie van vierde vrou vir een van hierdie mans aangebied is, en met die wete dat selfs haar eie familie haar mag doodmaak omdat sy ʼn Christen is, was haar enigste keuse om weg te hardloop.
*Naam vir sekuriteitsredes verander.
Pakistan
Christene in Pakistan ervaar uiterste vervolging op elke gebied van hul lewens. Gelowiges wat vanaf Islam bekeer, staar die hoogste vlakke van vervolging in die gesig en in hierdie sterk Islamitiese land word alle Christene as tweedeklasburgers geag. Hulle word werke gegee wat as laag, vuil en oneerbaar gesien word, en hulle kan slagoffers van dwangarbeid word. ʼn Paar Christene is deel van die middelklas, maar hulle word steeds as ondergeskik aan hulle Moslem-eweknieë gesien en ervaar dikwels diskriminasie in die werksplek.
Christenmeisies is in gevaar van ontvoering en verkragting. Hulle word dikwels in huwelike met hulle aanvallers gedwing en geforseer om na Islam om te skakel.
Pakistan se berugte Godslasteringswette word gebruik om Christene te teiken en Islamitiese ekstremistiese groepe “verdedig” hierdie wette ten sterkste, wat aanvalle en moorde insluit op dié wat geglo word dit oortree.
Christelike kerke bestaan wel, maar dié wat aktief is met uitreike staar erge vervolging van die samelewing in die gesig.
Area: Asië
Bevolking: 208 362 000
Beraamde Hoeveelheid Christene: 4 052 000 (1,9%)
Meederheidsgeloof: Islam
Gebedsversoeke
- Bid vir waagmoed vir Christene in Pakistan om oor hul geloof te praat, ten spyte van hul vrese dat hul woorde teen hulle gebruik kan word. Bid vir wysheid vir hulle, en dat God aan hulle die regte woorde sal gee om te sê.
- Bid vir beskerming van Pakistanse kerke, veral oor vakansies soos Kersfees en Paasfees wanneer terroriste-aanvalle in die verlede gebeur het.
- Bid vir beskerming vir jong Christenvroue en -meisies. Bid dat die wat reeds ontvoer is en geforseer is om om te skakel en te trou, deur God vertroos en versterk sal word. Bid dat hulle Sy liefde sal ken, selfs in hulle aaklige omstandighede.