Samesweringsteorieë en die Bybel

COVID 19 Samesweringsteoriee en die Bybel

Daar is tans heelwat samesweringsteorieë wat die rondte doen, veral wat betref die COVID-19 virus en inentings daarteen. Die vraag is behoort ‘n Christen betrokke te raak by hierdie strydvrae en moontlik ook by die oplossing van die probleem. Samesweringsteorieë en die Bybel is veral ‘n onderwerp wat deur baie sosiale media aanhangers dikwels bespreek word. Daar is diegene wat beweer dat dit ‘n Christen se plig is om hierby betrokke te raak en die “waarheid te verkondig”. Die hoofargumente vir hierdie denke word dan gewoonlik uit die Bybel gehaal en spesifieke teksverse word gebruik om argumente te staaf. Daar is veral twee teksgedeeltes wat baie gewild is en gebruik word in hierdie argumente naamlik Jakobus 4:17 en Esegiël 33. Hierdie twee skrifgedeeltes handel oor die onderwerpe van sondes van versuim en die konsep wat verwys na die wagter op die muur. Wat is egter die waarheid? Wat sê die Bybel oor hierdie kwessie en hoe moet ons die teksverse verstaan wat deur die voorstaanders hiervan gebruik word?

Sondes van Versuim

Die Bybel is baie duidelik dat gelowiges wat iets verkeerd, boos of sondig sien, daarteen moet waarsku en selfs teen dit moet optree. En wanneer ons iemand in nood sien, ons moet help. Indien ons dit nie doen nie, word dit beskou as sonde van versuim. “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde. ” (Jakobus 4:17). Jakobus versoek dan ook in hoofstuk 2, vers 15 en 16 die volgende: “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit?” Dis soos om vir iemand wat in nood verkeer en jy tog die middele het om te help, die volgende te sê: “Ek is jammer, ek sal vir jou bid.” Dit help nie werklik veel nie.

Johannes bevestig hierdie beginsel in 1 Johannes 3:17: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? ” Johannes vra ‘n direkte vraag hier: “Hoe is dit moontlik dat God se liefde binne jou is, maar tog doen jy absoluut niks om jou broer of suster te help nie?”

Die waarheid is dat iemand wat die bronne het om te help, maar tog weier om ‘n vinger te lig, nie God se liefde in sy of haar hart kan hê nie. Om te weier om ander te help in hierdie opsig, is ‘n sonde van versuim. Sondes van versuim kan selfs ‘n groter sonde wees as sondes waar jy ‘n opdrag verontagsaam. Hierdie duidelike beginsels kom vanaf Ou Testamentiese tye voor. God het dit met die Joodse volk gedeel: “As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.” (Deuternonomium 15:7).

Samesweringsteorieë en die Bybel

Die Wagter op die Muur

Die beeld van die wagter op die muur wat in die Ou Testament voorkom word dikwels gebruik deur heelwat voorstaanders van hierdie samesweringsteorieë. Dit is die regverdiging vir sommige mense om te waarsku teen die mistasting van die samelewing, regerings wat links en regs opsetlik leuens vertel spesifiek met die doel om mense om die bos te lei, en ‘n hele aantal samesweringsteorieë. Baie Christene sien dit dan as hulle persoonlike verantwoordelikheid om die wêreld te waarsku oor wat presies hier volgense hulle evaluasie aan die gebeur is. Die vraag is egter: “Wat was die primere taak van die wagter op die muur? Was dit om korrupsie in die regering te ontbloot en die status quo te verander? Dit blyk nie die geval te wees nie, maar is dit logies en vanselfsprekend dat dit Christene se taak is om die wêreld te red van bose regerings?

Die taak van die wagter op die muur is duidelik in die Ou Testament. Ons kan byvoorbeeld Esegiël 33 daaroor gaan lees. Dit was sy taak om die mense te waarsku oor God se naderende oordeel oor Israel, en nie werklik te waarsku oor bose regerings, slegte dinge en korrupsie tussen regeringsamptenare nie. Daar is niks daarmee verkeerd om korrupsie en verkeerdhede van ‘n regering bloot te lê nie, maar as gelowige word jy nie geroep om in daardie proses betrokke te raak by die verkondiging van samesweringsteorieë of te argumenteer oor die “doom & gloom” wat sal volg en blootgelê moet word deur jou nie. Bose praktyke wat boosheid versprei, ongeag hoe dit lyk, moet aan die kaak gestel word. Daarna is dit egter nie jou taak as Christen om verder te argumenteer en mense te probeer ompraat as deel van jou evaluasie en oordeel nie.

Dit is in die eerste instansie die taak van die regering van die dag om dit reg te stel en wat geoordeel sal word deur God. In die laaste instansie moet ons dit aan God oorlaat wat die wêreld red en nie die taak op my eie skouers neem nie.

Die Doel van die Wagter

Wanneer ons ons eie motiewe en optrede evalueer, moet ons let op die wagter se spesifieke doel. Hy het nie met sy eie agenda gewerk nie, ook het hy nie ‘n ondersteuningsgroep begin en handtekeninge begin versamel om die samelewing te verander nie. Sy taak was uitsluitlik om die bose te waarsku dat hulle moet omkeer van hul verkeerde optrede. “Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” Jy het dan gedoen wat reg is en wat God van jou verwag. Die petisies en die handtekeninge en betrokkenheid by samesweringsteorieë kan dan nie regverdig word deur hierdie Bybelse beeld te gebruik nie. Ons moet versigtig wees om God se Woord te gebruik om ons eie agendas te voed.

Christene word geroep om te dien, te gee, te bid, en om die hande en voete van Christus te wees. Ons word nie geroep om al die kontroversies en teorieë van die wêreld te ontbloot, te weerlê en verkeerd te bewys nie. Ja, ons is Christus se wagter op die muur, geroep om die verlore siele te waarsku aangaande Christus se naderende wederkoms en Sy oordeel indien hulle nie tot inkeer kom nie.

Samesweringsteorieë en die Bybel

Die Bybel het wel baie te sê oor betrokkenheid by kontroversies en teorieë, maar die meeste inligting daaroor in die Bybel is nie juis positief nie, tog baie duidelik. Paulus skryf bv. die volgende: “Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos.” (Titus 3:9). Hy skryf verder: “Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid. (1 Timoteus 2:16). Op verskeie plekke in die Bybel, waarsku hy selfs die kerkleierskap en herinner hulle “aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net lei tot ondergang van die hoorders.” (2 Timoteuts 2:14). Het jy dit gsien? Hierdie tipe nuttelose debatte lei tot ondergang van die hoorders. In ander woorde, dit help niks, en lei tot niks goeds nie. Inteendeel, hierdie dinge maak dinge net erger want dit plaas spanning op verhoudings as gevolg van die verskil in menings. Wat moet ons eerder doen? Paulus se advies is: “En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; en ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie.” (2 Timoteus 2:23 & 24). Dit beteken “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.” (1 Timoteus 4:7). Hierdie afwysing sluit in al hierdie samesweringsteorieë en mites wat nie werklik bewys kan word en ons in elk geval niks aan kan doen nie.

Gevolgtrekking

Samesweringsteoriee en die BybelGod sit nie in die hemel en vryf Sy hande terwyl Hy dink: “Wat gaan ek volgende doen?” Hy is nie die outeur van boosheid nie, alhoewel Hy dit toelaat en ons ‘n vrye wil gee wat betref ons eie keuses. Tog gebruik Hy hierdie boosheid wat Hy toelaat sodat Sy wil kan geskied. “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20). Verder gebruik Hy dit tot ons voordeel. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28). Satan het God se toestemming nodig gehad om Job te laat ly, maar Satan se mag is alreeds in hierdie Jobstyd deur God beperk. So bv. is hy nooit toegelaat om Job se lewe te neem nie (Job 1:2). God beheer die lewe en die wêreld; Satan is aan ‘n leiband en kan nie doen wat Hy wil nie. God benodig nie my hulp om al hierdie samesweringsteorieë wat in omloop is te ontbloot en die wêreld te red daarvan nie. Daarom hoef ek glad nie betrokke te raak daarby nie en moet ek wegbly van hierdie “dwase strydvrae”. Job het vasgehou aan God se soewereiniteit, en al was hy nie bewus van die feit dat dit Satan was wat hom aangeval het nie, sal ek saam met Job verklaar: “ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit”. (Job 13:15).

Die artikel Samesweringsteorieë en die Bybel” is ‘n bydrae deur Dr. Leon Pienaar, Dekaan aan die Bet-El Bybel Divisie en bestuderende direkteur van LEDISA Academy.