Almal van ons ervaar op die oomblik, en beslis ook vir die volgende paar maande ‘n “nuwe normaal”. Om hierdie rede wil ek graag ‘n konsep wat groot impak kan maak op ons lewens op die tafel plaas. Almal van ons wil graag hê ons lewens, ons besighede en ons gesinne moet suksesvol en gelukkig wees. Dit gaan egter nie per ongeluk of toevallig gebeur nie. Daar is heelwat dinge wat met opset gedoen moet word ten einde die geluk en voorspoed wat ons begeer te ervaar. Werklike sukses is ‘n newe- of byproduk van sekere dinge wat ons opsetlik doen.
Jy het moontlik al die volgende, beroemde aanhaling van Zig Ziglar raakgelees of gehoor: “We all need a daily check-up from the neck up to avoid stinkin thinkin”. Alhoewel dit baie waar is, is dit geen nuwe konsep nie. Hierdie konsep dateer alreeds uit Salomo se dae en is steeds relevant vir moderne geneeskunde. Wetenskaplike navorsing toon deurlopend dat ‘n positiewe, gesonde gesindheid en selfbeeld heelwat doen vir ‘n persoon se fisiese gesondheid en welstand.
Henry Ford was ‘n merkwaardige individu. Hy het dikwels opmerkings gemaak teenoor sy bestuurspan wat hulle op hul tone gehou het. Ford het by geleentheid die volgende aan sy bestuurspan gesê: “If you don’t think it can be done, you are no longer on my team!” Hy was nie juis baie geduldig en verdraagsaam teenoor mense wat vir hom gesê het dat iets nie sal werk, of nie gedoen kan word nie. Dis alombekend dat hy ‘n kreatiewe innoveerder was, altyd op die uitkyk vir nuwe en beter manière om dinge te doen. Die volgende bekende stelling word ook aan hom toegeskryf: “There are two kinds of people in the world – those that think they can do everything and those who don’t think they can do anything. And, you know what? They are both right!” Hy het geglo dat ‘n mens wat hom- of haarself deur ‘n probleem dink, suksesvol aan die anderkant sal uitkom. In baie gevalle is die enigste beperking vir die mens sy eie denke, en het hy redeneer, terwyl jy op die regte manier daaraan dink, “put some shoe leather into your ideas”. Denke en die neem van aksie gebaseer op hierdie denke gaan hand aan hand.
Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie graag bekend staan as ‘n negatiewe persoon nie. Ek wil nie een van die massa wees wat so maklik verklaar: “Dit sal nooit werk”, of, “Ons het dit nog nooit so gedoen nie”. Ek wil beslis ook nie ‘n droom-moordenaar wees deur aan iemand te sê dat wat hulle doen onmoontlik is nie. Dink net waar ons vandag in die lewe sou wees as sommige mense na al die “klakouse” geluister het of nie daarin kon slaag om die negatiewe woorde van ander te ignoreer nie. Hulle sou nooit die “onmoontike” vermag het waarvoor hulle vandag bekend is nie.
Ek is seker jy weet dat Steve Jobs, die stigter van Apple Computers, ‘n ruk gelede oorlede is. Een van sy drome was dat elke leerder in elke skool ‘n rekenaar sou hê om te gebruik. Jare gelede het hy hierdie droom met die wêreld gedeel en mense het dit afgemaak as belaglik. Daardie tyd was rekenaars nog so groot en lomp dat een rekenaar in ‘n enkele gebou kon pas. Vandag is daar niks vreemd aan hierdie konsep nie; die meeste mense dra deesdae ‘n skootrekenaar rond in ‘n rekenaarsak, selfs in die sak van jou broek. Steve Jobs het hom nie gesteur aan hierdie negatiwiteit nie – hy het homself ‘n “check-up” gegee om hierdie negatiwiteit uit sy sisteem te kry.
Ek het onlangs ‘n artikel gelees oor die firma Apple Computers. Die firma wat Steve Jobs begin het, besit vandag meer as ‘n biljoen (duisend miljard) dollar in bates. Dit is ‘n ontsagwekkende bedrag. Die meeste van hierdie negatiewe ongelowige Thomasse van jare gelede staan vandag verstom dat sy idees gewerk het. Steve Jobs het klaarblyklik sterk gedagtes en drome gekoester oor die bereiking van “onmoontlike” take en idees.
Ek kan vele voorbeelde soortgelyk aan Steve Jobs opnoem, maar ek dink ons kry die idee. Dit is binne ons beheer as mense om te bepaal watter tipe gedagtes ons gaan toelaat en vertroetel in ons denke en wat ons uitgangspunt gaan wees oor lewenskwessies wat ons teenkom op ons pad. Soos ‘n individu persoonlik groei, word baie dinge wat hy of sy ervaar moeiliker en meer uitdagend. Tog is dit juis hierdie groei midde in uitdagende omstandighede wat ons toelaat om verby ons eie beperkte denke te beweeg ten einde te sien wat gedoen kan word en werklik moontlik is. Dis wat ek vir elkeen toewens.
Dink elke dag oor wat jy toelaat om saad te skiet in jou gedagtes en denke. Neem al jou positiewe en rein gedagtes en koppel aksiestappe daaraan. Leer om groot te droom. Sien dinge wat jy wil bereik in jou visuele gedagtes en drome en begin aksie neem. Jy sal nooit weet waartoe jy in staat is nog voor jy begin nie.
Dis tyd vir ‘n “Check-Up”. Mag jy ‘n wonderlike dag beleef.