Depressie is vandag alledaags. Dit is ook ‘n toestand wat Christene affekteer en ‘n geweldige impak maak op mense. Hoe kan die Bybel ons help om depressie te beveg? Die volgende 4 Bybelse wenke oor hoe om depressie te beveg kan help:
Selfs helde ondervind depressie
Die eerste en belangrikste wat jy moet onthou is dat jy nie alleen is wanneer depressie ervaar word nie. Sommige van die grootste helde in die Bybel het in diep depressie verval. Dit was selfs so erg dat van hierdie helde hul eie lewe wou beëindig. Dit was egter nie die einde vir hulle nie, en daar is geen rede waarom dit die einde vir jou moet wees nie. Jy is in goeie geselskap.
- So byvoorbeeld het Jona die bemanning van die skip waarop hy gereis het versoek om hom oorboord te gooi omdat volgens hom, hy die oorsaak van die storm was (Jona 1:12). Jona moes geweet het dat hy gaan sterf as hy dit versoek.
- Kort nadat Elia gevlug het vanaf Isébel omdat sy hom om die lewe wou bring, het hy onder ‘n besembos gaan lê en God gevra om hom om die lewe te bring: “… self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie.” (1 Konings 19:4).
- Die Apostel Paulus het nie ‘n wens uitgespreek om te sterf nie, maar tog noem hy dat hy geweldig ly. Soveel dat hy sê: “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.” (2 Korintiers 1:8).
- Selfs die groot leier van Israel, Moses, het by geleentheid aan God gesê: “En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.” (Numeri 11:15).
- Die laaste held wat ek wil noem, was Job. Gedurende sy intense lyding het hy gedagtes gehuisves dat dit beter sou wees indien hy nooit gebore was nie. (Job 3:11; 20-22)
Soos jy kan sien is jy sekerlik nie die enigste een wat met hierdie geveg worstel nie. Die wonderlike van al hierdie voorbeelde is dat God ingegryp het. Hy is groter as depressie.
Die krag van die Woord
Die woord van God is kragtig. Dit het werklik krag en is die lewende asem van God (Hebreërs 4:12). Dit is God wat met jou direk praat en Hy het baie vir ons te sê, veral wanneer die wereld donker lyk rondom ons. Feitlik elke Christen wat ek ken, worstel of het al geworstel met die “donkerte van die siel”, maar vir meeste van hulle het daar uit hierdie duisternis ‘n lig begin skyn.
Hoe het dit gebeur? Dit het gebeur deur vas te hou aan God se groot en kosbare beloftes. (2 Petrus 1:4). Een van hierdie beloftes is die sekerheid wat ons het in Christus. Paulus skryf “ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39). Paulus was 100% seker daarvan; jy kan ook 100% seker daarvan wees. Seker waarvan? Dit niks en niemand in hierdie wêreld jou kan verhoed om ‘n mede-erfgenaam te wees in die Koninkryk van God nie. (Johannes 6:37-39; 10:28-29).
Daar is werklike krag in God se Woord (Romeine 1:16; 1 Korintiers 1:18). Nie net is hierdie ‘n krag tot redding nie, maar ‘n krag wat ons vertroos en bystaan, ons bemoedig en ons trek uit hierdie “donker gat” uit. En daarby skenk Hy ons ‘n dankbare hart.
Dankbaarheid en lof
Een van die 4 Bybelse wenke oor hoe om depressie te beveg is ‘n oorvloedige dankbaarheid en lof aan God in jou hart. Dis moeilik om depressief te wees wanneer jy dankbaarheid en lof toelaat om uit jou hart te stroom vir alles wat God voorsien en wat nog voorlê vir jou in die Koninkryk van God. ‘n Groot motief vir dankbaarheid is dat ons gered is van die oordeel van God en in die plek daarvan genade ontvang. Genade aan ons gegee deur ons Hoëpriester wat aan die kruis gesterf het. Paulus skryf: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle,” (1 Tessalonisense 5:18) terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus.” (Efesiërs 5:20). Selfs wanneer ons tot God nader en die erediens besoek, moet ons “sy poorte ingaan met lof (danksegging), sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” (Psalm 100:4). Ons het beslis rede om dankbaar te wees en Hom te loof. “HALLELUJA! Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”. (Psalm 106:1).
Dien ander
As jy die donker wolk van depressie wat oor jou hang wil lig, begin dan om ander te dien. Deur ander te dien bv. by ‘n sopkombuis, kan ons self sien hoeveel mense minder as ons het, en selfs honger of sonder klere elke dag moet klaarkom. Deur die minder bevoorregte te dien, besef ons hoeveel genade en seëninge ons uit God se hand ontvang. Dit neem jou oë weg van jouself as jy na ander kyk. Deur ander te dien, dwing ons ons gedagtes weg van ons eie probleme en laat die depressie soos stormwolke verdwyn voor die somerbriesie en son wat deurbreek. Dit is in elk geval jou roeping. “Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. (Matteus 25:35-36). En terwyl ons dit vir ander doen en hulle dien, doen ons dit aan Christus. ” … vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. (Matteus 25:40).
Gevolgtrekking
Dis altyd ‘n goeie plan om ‘n mediese praktisyn te besoek indien jy aan depressie ly, of verhoed dat jy depressie het, veral as dit ‘n geruime tyd voortduur. Dit is moontlik dat daar ‘n fisiese oorsaak daarvoor is en dat daar medikasie voorgeskryf kan word. Feitlik alle mense word depressief van tyd tot tyd en wanneer jy voel dat dit jou oorweldig, is dit nodig dat jy hulp kry. Buiten ‘n mediese praktisyn kan jy ook ‘n Christelike berader nader. Gebruik die wenke in hierdie artikel – jy hoef nie in ‘n donker gat te leef vir die res van jou lewe nie. Neem voorraad in jou lewe, bepaal jou eie bestemming en word bevry van hierdie donkerte. Dink aan wat God alles vir jou gedoen het en maak al Sy beloftes jou eie – elke dag.